Coenie Burger se boek Oop deure – wat Openbaring ons oor die kerk se lewe en roeping leer is veel meer as ‘n blote uitleg van die boek Openbaring. Dit is aktueel en toepaslike vir ons onseker tye van pandemies, toenemende konflik, morele verval en ekologiese rampe. Vanuit die beeldryke Openbaringboek bied dit ‘n verrassende, troosryke en hoopvolle blik op God Drie-enig, en God se toekoms waarin alles nuut gemaak word. Die boek open deure, nie net op God se toekoms nie, maar ook op geleenthede vir die kerk se missionale roeping vandag. Die fokus is veral ook op gemeentes wat in gehoorsaamheid meegeneem word in God se sending gerig op die herstel van ‘n gebroke wêreld. “Soos dit ’n goeie eksegeet betaam, verduidelik Burger hoe die boek gespreek het tot die gelowiges vir wie dit oorspronklik geskryf is – in ’n wêreld wat totaal anders as ons s’n gelyk het. Hy bied egter ook ’n passievolle toe-eiening van die boodskap van die boek vir ons eie tyd – op so ’n manier dat ons beter insig in ons eie situasie kry en die talle geleenthede raaksien wat God vir ons hier aan die suidpunt van Afrika skep. Hy help ons inderdaad om te hoor wat die Gees vir die gemeentes van ons tyd sê”. – Prof Francois Tolmie, Nuwe Testament, Universiteit van die Vrystaat.






